Sunday, May 20, 2012

Skeepskanonne 150 jaar in Philippolis

- Jens Friis PHILIPPOLIS. Vanjaar is dit mooitjies op die kop 150 jaar wat twee skeepskanonne 'n tuiste gevind het in Philippolis, maar in al dié jare is daar nog bitterselde met hulle gevuur. Die twee ou skeepskanonne, waarskynlik die oudste Westerse artefak in Philippolis, wat nagenoeg 300 jaar gelede deur die Bailey & Pegg-ysterwerke vervaardig is, waak oor die dorp. Hulle is gemonteer op voetstukke en staan bo-op 'n klipkoppie in die hart van die dorp. Elkeen weeg sowat 350 kg en het 'n reikafstand van sowat 500 m. Om dit van nader te beskou moet die klipkoppie van die kant van die P.J. Nienaberplein langs Voortrekkerstraat uitgeklouter word. Prof. A.W.G. Raath wys in sy boek Vesting in die Transgariep dat daar telkens in historiese stukke na die kanonne verwys word. "Hierdie kanonne is waarskynlik twee van die drie kanonne wat deur Adam Kok van Port Elizabeth aangeskaf is, waarop in 1862 (dus 150 jaar gelede) onder die koffie en suiker in die winkel van Pulvermacher beslag gelê is, wat in Oktober in 'n inventaris van die landdros oor die inhoud van die tronk voorkom en wat deur die heer Eagle voorgestel is om gedurende die Basoetoe-oorloë op wa-agterstelle gemonteer moes word." Kok wou vermoedelik die kanonne saamneem op die Griekwas se Groot Trek na Niemandsland (Griekwaland-Oos). Volgens die inventaris van Kok se besittings met sy trek na Kokstad was daar drie kanonne, maar dit is onbekend wat van die derde kanon geword het. Maar nog voordat hy dit kon gebruik, het Philippolis se landdros glo daarop beslag gelê. P.J. Nienaber en C.J.P. le Roux skryf egter in hul boek Bewaring in die Oranje-Vrystaat dat die kanonne deur dr. John Philip, na wie Philippolis genoem is, aan Kok geskenk is. Kok sou dan glo ook hierdie kanonne teen die Boere in die Slag van Swartkoppies (1845) gebruik het. In die eeu en 'n half wat die kanonne in Philippolis is, is dit nog selde afgevuur. Een geval was wel met die herdenking van die Groot Trek in 1938. Mnr. Henning Viljoen, een van die organiseerders van die Ossewatrek op Philippolis, het toe die twee kanonne met 'n skotskar na die Oranjerivier aangery waar die Serfonteinbrug nou is. Hier het die Vrystaters die trekkers van die Kaapkolonie ontmoet. 'n Monument is ook opgerig op 'n nabygeleë koppie om dit te herdenk. In dié jare het die twee kanonne gestaan in die parkie voor die stadsaal en langs die hotel in Voortrekkerstraat. Rondom 1980 is dit straat-op verskuif tot bo-op die koppie waar dit nou nog staan skuins agter die Nienaber-plein. Van hier bo het 'n mens 'n wye blik oor die ganse Philippolis. Met die Witblitsfees in 2000 is daar onder andere weer 'n paar skote met die kanonne geskiet. Feesgangers wat wou, moes op dok vir dié geleentheid en só is 'n paar rand vir die fees geïn.

No comments: