Friday, May 11, 2012
Oom Sterk Gert oorlede
- Jens Friis
Figure van legendariese omvang is daar weinig meer, en nou is die platteland nóg een armer.
Oom Gert van Biljon (88), oftewel Sterk Gert, van die bejaardetuis op Trompsburg is enkele dae gelede oorlede na 'n lang stryd teen onder meer erge suikersiekte.
Dié reus van 'n man het met rede Sterk Gert geheet, want op sy dag kon hy 'n windpompkop sommer so op sy eie teen 'n windpomp uitdra en op sy plek plaas. Maar hy het ook 'n deurgrondige kennis van die Karoo se plante gehad, was 'n kranige versamelaar van oudhede, bouer, boer en geliefde inwoner van Philippolis waar hy die grootste deel van sy lewe gewoon het.
Saam met sy oorlede vrou Cielie het hulle geboer suidwes van die dorp wat nou deel vorm van die Laohu-tierreservaat. Maar nadat oom Gert langs Voortrekkerstraat, die hoofstraat van Philippolis, kom woon het, het hy allermins kom stilsit.
Met die bou van die Sir Laurens van der Post Skrywershuis en gedenktuin het hy 'n leidende rol gespeel. Hy't as nutsman menige probleem elders in die dorp opgelos en as jou boorgat se pype probleme gee was hy die man om te bel.
BOERERATE
As die dokter se medisyne nie wou help nie, was oom Gert ook die man om te bel. Van boererate en veldplante het hy baie geweet - en genadiglik het hy dit aangeteken in 'n notaboekie en is feitlik almal ook gepubliseer in die Philippolis Post, die plaaslike gemeenskapskoerant. Was dit nie hiervoor nie, was dit gewis verlore vir die nageslag.
“Die Suid-Vrystaat is vol rate wat nie verlore mag gaan nie. Daarom dat ek hul nou aanteken,” het Oom Gert destyds gesê nadat hy meegewerk het met die universiteite van die Vrystaat en Rhodes.
Onder die honderde boererate wat neergepen is, tel rate vir bloedvergiftiging en artritis tot snywonde en hoes.
As ’n baba tande kry, het die oumense glo weeluise gevang, hul stukkend gedruk en die bloed daarvan aan baba se tandvleise gesmeer.
En wat gemaak as iemand flou val van groot hartseer? Dan is een van die gesin se urine blykbaar vir die verdrietige persoon gegee om te drink. Om die smaak te verberg is ’n paar peperment-druppels bygegooi.
Hoewel hy nie bereid was om verantwoordelikheid te neem vir die mediese uitwerking van sommige rate nie, het baie egter in ’n stadium vas geglo dié rate werk.
“Die oumense het geglo dat jy perskepitte moet fynstamp en snuif as jou neus bloei. Borrie doen ook die ding. Sou nie een van dié twee rate help nie, is dit raadsaam om baie rou of gekookte kool te eet. Sommige glo ook vas daaraan om ’n swart sydoek om die kop te bind en dit agter by die nekwerwel vas te knoop.”
CHRYSLER UIT 1934
As daar 'n troue of fees was is oom Gert genader om sy statige 1934-Chrysler uit te trek. Dié motor het die dorp baie plesier verskaf en nadat hy dit opgeknap het, het dit waarlikwaar soos 'n nuwe sikspens gelyk. Des te meer nadat Van Biljon eiehandig die leerafwerking met sorg gerestoureer het.
In 2004 toe hy 80 was, het oom Gert gesê dat dit 'n voorreg is om dié swart pragstuk met sy sagte, statige kurwes in te span wanneer daar 'n plaaslike "highday of holiday" is.
"Min mense het al in so 'n antieke motor gery en dit gee hulle gewoonlik baie plesier," het hy toe vertel. "Op grondpaaie moet mens maar mooi ry, want 'n skerp klip kan sommer tot 'n pap wiel lei."
Die motor se wiele was nie soos vandag s'n plat op die loopvlak nie, maar effens rond - soortgelyk aan 'n fietswiel.
Die Chrysler had ook menige interessante ekstras waaroor motors meestal vandag nie meer beskik nie. Dit het ingesluit 'n voorruit wat op bloedige warm somersdae oopgeskuif kon word.
Nog 'n lafenis teen die hitte was om die sonvensterklappe te laat sak. Dié het oor die jare al verkleur weens die pyprook van vorige eienaars.
Só 'n kosbare motor moet veilig bewaar word. Daarom het Oom Gert dit elke keer toegegooi met 'n reuse, ou kombers voordat hy saans sy waenhuis langs Voortrekkerstraat gesluit het.
PLAASWERKTUIE
Toe Oom Gert se gesondheid later nie meer na wense was nie, is dié spogmotor verkoop nes 'n uitgebreide aantal antieke plaaswerktuie wat hy versamel het. Hieronder het getel stokoue dorsmasjiene tot grawe, pikke en houtdosies waarin eiers vervoer is.
Oom Gert wou graag sien dat dié antieke plaaswerktuie 'n plek vind in 'n eie plaasmuseum, maar helaas het die jare hom ingehaal.
Nietemin, laat hy 'n ryke erfenis agter waarvoor baie hom gewis nog lank sal onthou.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment