Friday, May 11, 2012

Lyk toe al die tyd 'n boomstomp?

- Jens Fris

’n BROKKIE inligting wat ’n bejaarde vrou destyds met ’n oud-argeoloog van die Nasionale Museum in Bloemfontein gedeel het oor ’n boomstomp pleks van ’n lyk in ’n kis, spook ná jare steeds by hom.

Was die “lyk” in die kis dalk wel net ’n boomstomp, soos sy vertel het, wonder Cobus Dreyer.

Dreyer het jare lank navorsing gedoen oor die geskiedenis van die inheemse volke van die Vrystaat.

“Dit was baie bevredigend, maar afgesien daarvan ly ek ook aan ‘n ‘outydse siekte’: Enigiets wat oud is, interesseer my,” vertel hy.

“Die ander personeel by die museum het dit geweet. Wanneer daar ’n lid van die publiek met ’n storie, of ’n voorwerp aangekom het en die betrokke departement, soos antropologie of geskiedenis het nie belang gestel nie, het hulle my geroep. Mense kan maklik afgehaal voel as jy nie in hul storie, kiekies of ou Bybel belang stel nie.”

Op dié wyse het hy juwele ontdek.

“So ongeveer 15 jaar gelede, roep die dame by die biblioteek my.

“Kom daar, wag ’n klein, ou vroutjie op my. Jy sou kon sê die tipiese little ol’ lady.

“Kiertsregop, netjies aangetrek, met so ’n krulrand strooihoedjie op die kop.

“Haar naam is Felecite Lowe-Nevett. Sy gee my haar kaartjie. Ek het hom nog. Daar is twee adresse op, een in Umhlanga Rocks en die ander in Stockport in Groot-Brittanje.”

Dié tannie was besig met familie-navorsing en sou enige hulp waardeer. Sy het self van Natal gery en was onderweg na die Kaap.

Haar oupa was die dokter op Philippolis tydens die Anglo-Boereoorlog. Hy dokter Boer en Brit, almal voor die voet. “Oupa het vier dogters gehad, waarvan haar ma een was.”

Een van die susters trou met ’n vent wat daar aankom en kort voor lank is hy 30 000 pond in die skuld. “Seker ’n fortuin vir daardie tyd.”

Die vent bedink toe ’n plan. Hy val van sy perd en “sterf” tragies. Hy word begrawe en die hele hartseerstorie word op sy grafsteen aangebring.

“Sy reken dat daar ’n boomstomp in die kis was, want etlike jare daarna slaan die niksnuts op die diamantvelde uit. Perdfris en gesond.

“Sy het ’n verklaring van ’n private speurder (natuurlik uit daardie tyd) by haar gehad wat dit bevestig het.

“Nou moet ek bieg. Ek het nie die name of vanne van die mense of plaasname of plekke of enige notas neergeskryf nie,” vertel Dreyer.

“ ’n Jaar of wat daarna kry ek ’n brief van haar waarin sy voorstel dat ek haar moet help om die graf te gaan opgrawe om te kyk wat was in die kis.

“Ek het in daardie stadium maar gevoel om nie betrokke te raak nie en skryf toe aan haar: ‘Let sleeping logs lie’. ”

Dit het hom later gepla en hy skryf toe aan haar briewe na albei adresse wat haar egter nie bereik het nie.

“Teen daardie tyd was sy seker al lankal langbome toe.

“Ek het per geleentheid op Philippolis in die ou begraafplaas gaan soek, maar kon nie ’n graf met die hartseerstorie kry nie. Vir al wat ek weet, is hy op ’n plaas begrawe.”

Dreyer sal dit hoog op prys stel as enigiemand iets van dié gebeure weet.

Skryf aan hom by DreyerJ@ Telkomsa.net.

No comments: