Monday, March 12, 2012

Volksboukundige skat verval


- Jens Friis
PHILIPPOLIS. – ’n Muur van die dorp se historiese skutkraal, ’n nasionale gedenkwaardigheid, het ineengestort.
Enkele maande gelede is in Volksblad gewaarsku dat dringende aandag nodig is om dié volksboukundige skat van verval te red.
Naas die skutkraal by die ou polisiekantoor op Ventersburg, is die een op Philippolis die enigste voorbeeld van dié spesifieke soort bouwerk wat in die ganse Vrystaat behoue gebly het.
Die skutkraal is in 1990 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.
Geen eenstemmigheid bestaan oor die oorsprong van die skutkraal nie. Dit bestaan uit twee krale wat gevorm word deur mure van sowat 2,5 m hoog en ’n halwe meter breed. Die klippe is aan mekaar gemessel.
In die grootste kraal is ’n skutmeesterskuiling met ’n plat sinkdak en klipvloer.
Tydens die reisiger James Backhouse se besoek aan Philippolis in 1839 was daar ’n paar veekrale van klip aan die kant van die dorp.
Op sy skets van Philippolis verskyn daar ’n groot reghoekige struktuur aan die voet van ’n koppie wat moontlik die bestaande skutkraal kan wees.
Dat daar ’n skut in 1862 was, is seker, want die plaaslike vrederegter, F.K. Höhne, maak melding daarvan. Dit is waarskynlik dieselfde erf wat in 1895 aan die munisipaliteit van Philippolis oorgedra is.
Die skutkraal, aan die voet van ’n koppie langs Justiestraat, vorm saam met ’n aangrensende Karoo-huisie ook ’n nasionale gedenkwaardigheid, ’n historiese kompleks in die kleine.

No comments: