- Jens Friis
PHILIPPOLIS. - 'n Witgekalkte huis langs Tobie Mullerstraat is so tipies van die Karoo-platdakstyl as kan kom. In die string argitektoniese juwele in Philippolis is dié huisie geensins die imposantste nie, maar miskyk kan jy dit nie.
Sit toeriste saans op die stoep van die Nagmaalshuisie hang die melkweg in al sy glorie bo-oor hulle. Dit is dus ‘n gepaste naam dat dié sorgsaam gerestoureerde gastehuisie deesdae deel vorm van Starry Nights Karoo Cottages (www.starrynights.co.za) van me. Sunette Fourie.
In 1984 het verskeie eienskappe van hierdie huis die aandag van die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede getrek.
Die mure aan die voor- en sykante is effens verhoog om 'n lae borsweringsmuur met geprofileerde lyswerk te vorm. Die voordeur is simmetries in die fasade geplaas met die twee vensters aan weerskante. Die gebou het houtskuifraamvensters, wat van groengeverfde hortjieluike voorsien is.
"Die groengeverfde houtdeur met sy matglasruite en koperdeurplaat en -deurknop is waarskynlik 'n latere toevoeging tot die gebou," skryf prof. A.W.G. Raath in sy boek Vestiging in die Transgariep - die Vroeë Geskiedenis en Historiese Geboue van Philippolis .
Pleisterwerk om die vensters en deur en op die hoeke van die fasade dien as versiering.
"Oor die hele oppervlak van die mure is horisontale lyne in die pleister gekerf - waarskynlik ook 'n latere poging soos in die geval van die deur om aan die huis 'n meer deftige voorkoms te verleen."
Hierdie huisie het 'n platsinkdak, wat met 'n effense helling na agter afloop. Voor die gebou is 'n oop, smal stoep met leiklipplaveisel en steentrappies. Soos vele huise in oud-Philippolis lê dit vlak teen die straat. Van 'n tussenruimte soos 'n tuin is daar weinig sprake. Die private huisdomein skakel feitlik direk met die publieke domein. "Die straat kan 'n verlenging van die private binneruimte word," aldus argitek Jan Daniël Smit.
Die geskiedenis van hierdie tipiese Karoostyl-platdakhuisie is terug te spoor tot 1860. Op 17 Julie van daardie jaar is die grondbrief vir erf 97 uitgereik aan J. Jager deur Adam Kok III, die Griekwakaptein.
Dit het later in die hande van 'n Sarel J. Pretorius beland.
In 1978 is die erf geregistreer in die naam van mev. Blanca Mal herbe, vrou van oudburgemeester Izak Malherbe. Sy het dit gemeubileer met menige antieke stuk. Haar seun, mnr. Sakkie Malherbe, het in die huis gewoon toe dit in 1984 as nasionale gedenkwaardigheid verklaar is.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment