Monday, March 12, 2012

Biblioteek uiteindelik weer oop


- Jens Friis
PHILIPPOLIS. – Ywerige lesers het al moed opgegee, maar die haas onmoontlike het toe wel gebeur: Ná byna agt jaar se restourasiewerk is die dorp se Jacobson-biblioteek uiteindelik weer oop.
Daar het groot ontevredenheid hier geheers omdat die opknappingswerk net nie wou klaar nie.
Ook die Transgariep-museum langs die Jacobson-biblioteek word gerestoureer.
Die twee projekte sal na verwagting sowat R4,75 miljoen beloop.
In die afgelope jare is die bi-blioteek gehuisves in die ou skoolkoshuis van die eertydse Hoërskool M.T. Steyn by die uitgang van die dorp na Trompsburg. Vir biblioteek-gebruikers was dit ’n groot ontwrigting, want dit is uit die dorp en ver van veral die woonbuurt Bergmanshoogte.
Daar was aanvanklik planne om ’n nuwe biblioteek te bou, maar daar is toe besluit om die huidige een eerder te restoureer vanweë sy historiese belang.
Dié Victoriaanse juweel, dalk die spoggerigste huis op die dorp, is luidens ’n verslag van die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede in 1905-’06 deur twee Nederlanders, Van der Kooy en Arrie, vir ’n plaaslike handelaar, Leonardus Bohen, gebou.
Van 1915 het J.G. Hartman dit as tuishuis gebruik, maar dit was mnr. Moritz Jacobson wat dit die langste sou besit (1921 tot 1977).
In hierdie 56 jaar is die plankvloer van die stoep met ’n sementvloer vervang en die houttrappies voor die gebou met sementtrappies. Die buitegeboue op die erf het die eertydse stalle in omstreeks 1924 vervang.
Die huis is aan die Oranje-Vrystaatse Provinsiale Administrasie oorgedra nadat Jacobson die huis geskenk het met die doel dat dit in ’n biblioteek omgeskep moes word.
Toe restourasiewerk agt jaar gelede begin is, was die noordelike muur erg aan ’t verkrummel. Ook van die fraaie sierhoutwerk op die stoep het deur die jare vergaan.
Prof. Doreen Atkinson, sameroeper van die eertydse tussentydse biblioteekkomitee, het destyds aan Volksblad gesê kontrakteurs is aangestel wat nie die geld of kundigheid gehad het om  die  projek klaar te maak nie.
“Dis jammer dat swart ekonomiese bemagtiging belangriker geag is as plaaslike ekonomiese ontwikkeling.”
Die biblioteekkomitee het toe vuur gemaak oor dié aangeleentheid en die departement van openbare werke, paaie en vervoer, asook die departement van sport, kuns en kultuur, het daarna aandag aan die saak gegee.
Mnr. Thami Kani van die departement van openbare werke het toe op ’n biblioteekkomiteevergadering gesê hulle was nie tevrede met die werk wat deur die kontrakteur gedoen is nie. Daarom is die kontrak tydelik gestaak en meerdere male het die herstelproses weer tot ’n halt gekom.
Maar ná ’n rekordtyd van agt jaar kan Philippolissers uiteindelik nou weer hier boeke uitneem.

No comments: