Saturday, January 22, 2011

Dorpsdam aan't breek by Philippolis



Dorpsdam aan’t breek by Philippolis

- Jens Friis

PHILIPPOLIS. ‘n Dorpsdam by Philippolis is aan’t breek en inwoners vrees dat groot dele van die dorp onder water kan wees soos destyds in Laingsburg as dit bly reën. Boonop is die dorp sonder water nadat pype weggespoel het en die sowat 3000 inwoners van die woonbuurt Poding Tse Rolo is van die buitewêreld afgesny. Keerwalle, damme en brue is eenvoudig weg, en inwoners moes hul huise ontruim.

Dit volg nadat tot 200mm tussen Vrydagaand en Saterdagoggend in die distrik uitgesak het. ‘n Verdere 25 mm het daarna geval en sedertdien het ‘n motreëntjie feitlik ononderbroke oor die oudste nedersetting in die Vrystaat geval.

Dié damwal het op 4 plekke gebreek en minstens 40 m is uitgekalwe. Die aarde is reeds deurdrenk. “Sou daar dus nog water afkom kan dit katastrofale gevolge hê”, sê mnr. Jacques Lombard, onderwyser van die Philippolis Hoërskool.

Sou die wal heeltemal meegee is talle nasionale gedenkwaardighede in gevaar, want dié dam is reg langs die middedorp waar Philippolis aanvanklik aangelê is omdat daar ‘n fontein is.

Die pragtige N.G. Kerk, Laurens van der Post Gedenksentrum en huise en besighede langs Voortrekker- en Colin Fraserstraat kan beskadig word.

Die groter Philippolis wat Poding Tse Rolo en Bergmanshoogte insluit, gaan moontlik vir dae nie water hê nie nadat die pype na die opgaardam weggespoel het. Elders kon van dié waterpype ook weggespoel het, want dié pyplyding loop van Philippolis na die Oranjeriver en kruis vele spruite en slote wat in vloed afgekom het. Die presiese skade kon nog nie bepaal het nie omdat die veld te nat is en amptenare nog nie daar kon uitkom nie.

Me. Kimm Mann van Colin Fraserstraat se tuinmeubels het in haar erwe rondgedryf en sy en haar bure moes hul huise ontruim. Inwoners soos dr. Toit Botha en sy gesin het in van die dorp se gastehuise oornag omdat hulle gevrees het dat die spruit wat sy walle oorstroom het nog erger kan afkom.

Inwoners sê die skade is erger as met die vloede van 1976 of 1988. Mnr. Jens Friis sr, oud-skoolhoof wat reeds byna 50 jaar hier woon, sê in 1988 het daar nie in so ‘n kort tydjie naastenby soveel reën hier geval nie.

Dr. Carin van Schalkwyk, leraar van die plaaslike N.G. Kerk, sê: “Dit lyk erg hier. Boere is in dieselfde toestand as 1988. Maar van regeringskant is daar geen hulp om vasgekeerdes te help nie. Plase is totaal afgesny van die buitewêreld.”

Mnr. Wilfred Jacobson van die plaas Groenvlei sê hulle was Sondag reeds 4 dae vasgekeer op hul plaas en ook vir dieselfde tyd al sonder elektrisiteit. “Die Knapsakrivier is in volle vloed, die vlei sopwaternat en dit kan nog dae duur voordat Eskom die elektrisiteitstoevoer sal kan herstel.”

Vrydag was die laaste keer dat inwoners van Poding Tse Rolo in Philippolis kon kom, want die water was te hoog in die driffie agter C & J Motors, die brug by die skougrond is erg beskadig en die voetgangersbrug se reëlings is weggespoel.

‘n Behoorlike hoogwaterbrug sou enkele jare gelede gebou geword het om dié woonbuurt behoorlik met Philippolis te verbind, maar weens ‘n gebrek aan geld het daar destyds toe niks van gekom nie.

Maar eerste op die prioriteitslys nou sal die damwal langs die Trompsburg pad moet wees, want as dit meegee in die komende dae sal die skade miljoene rand beloop.

Fotobyskrifte:

· Dit reën só dat ‘n mistigheid hang oor die dorpsdam buite Philippolis kort voordat dit begin breek het.

· Een van die talle stukkende plekke in die damwal.

Foto’s: Jacques Lombard

No comments: