Tuesday, June 12, 2012

Pienaars se lewe nou verweef met kerk

- Jens Friis en Alta Snyman PHILIPPOLIS. ¬ - Min gesinne se lewe is só nou verweef met 'n gemeente as die Pienaars s'n met die Gereformeerde-kerk op Philippolis. Bennie (Tiekie) Pienaar wat in Maart uitgetree het was vir bykans drie dekades ononderbroke 'n kerkraadslid. In dié 29 jaar was hy 7 jaar diaken en 22 jaar ouderling. Vir tussenposes van 'n blote jaar het hy nie as kerkraadslid gedien nie. Boonop was hy al die jare ook skriba en hoewel hy in die afgelope paar jaar hartoperasies ondergaan het, neem hy steeds baie leesdienste waar. Hy en sy vrou Elize is op 7 Oktober 1967 in dié kerk getroud en al drie hul dogters, Izette (1968), Linette (1972) en Amia (1975) is hieruit gedoop. Hulle seuntjie Morkel is ook hier gedoop, maar hy is later oorlede. Hul dogter Izette Nel van Graskop het in 1993 hier die ja-woord gegee en dis ook waar haar twee seuns, Jan-Hendrik en Barend, gedoop is. Dieselfde geld hul dogter Linette le Roux van Nieu-Seeland. Haar dogtertjie Linmari is in 2006 in dié kerk gedoop. Elize was sedert 1985 die kurator van die plaaslike Transgariep Museum totdat sy twee jaar gelede afgetree het. Sy is ook al van 1980 af die koster van die kerk - dus vir 'n ellelange 32 jaar. Tiekie het in 1961 begin werk in Bloemfontein by die Inkomstekantoor en in 1965 is hy Frankfort toe om mense se belasting daar te doen. In 1968 trek hy en Elize ná hul troue Philippolis toe waar hy begin werk by Malherbe Prokureurs en dis hier waar hy steeds Philippolisers se belastingsake hanteer na al die jare.

No comments: