Thursday, February 16, 2012

Kimberley se 1stes 'n lekker dagrit vanaf Philippolis



- Jens Friis
Die hoofstad van die Noord-Kaap se diamantmyne het hom op sy dag aan die voorpunt van industrialisasie in Suid-Afrika geplaas. Gedryf deur 'n gees van vooruitgang en voorspoed, is dit nie verbasend nie dat dié stad oor talle eerstes beskik.
Dis net by hul Groot Gat wat Kimberley deesdae kleitrap. Dié is glo nié die grootste mensgemaakte uitgrawing ter wêreld nie. Volgens Jagersfonteiners het kenners altwee gate sorgvuldig gemeet en dit het duidelik getoon: hulle s’n is groter as dié van Kimberley.
Maar wat die res betref, word talle van Kimberley se eerstes, grootstes en bestes belig in dié stad se McGregor-museum.
Die imposante gebou wat die McGregor huisves het 'n ryke geskiedenis. Cecil John Rhodes wat dit in 1897 as sanatorium laat bou het, het hier tuisgegaan met die beleg van Kimberley. In die sitkamer (deesdae die museumwinkel) is die nuus aan hom oorgedra dat die stad bevry is. In 1908 is dit herdoop tot die Hotel Belgrave en in 1933 is die gebou weens geldelike nood as kloosterskool verhuur.
* Digby die McGregor langs Du Toitspanstraat is blykbaar die enigste inrykroeg in die land. Dit dateer van 1880.
* Die Start of the West naby die Groot Gat roem hom daarop dat dit die oudste kroeg in die land is. Nadat dit in die 1870's 'n dranklisensie gekry het, het Barney Barnato blykbaar dikwels hier aangedoen.
* Dit was kort hierna wat Kimberley die eerste dorp in Suid-Afrika geword het om elektriese straatligtete kry (1882).
* Ook was hier die eerste hotel wat kon spog met elektrisiteit (1889) en drie jaar later die eerste elektriese trem. Dié tremlyn het diens gedoen tot 1947.
* En só gaan die Nr. 1-lys voort. Wat vroue betref, staan veral die name uit van Karen Muir, suster Henrietta Stockdale en regter Leonara van den Heever. Die twaalfjare Karen Muir het 'n opskudding in die swemwêreld veroorsaak toe sy in 1965 in Blackpool, Engeland, die 110 tree-rugslag in 'n blitsige 68,7 sekondes afgelê het - 'n wêreldrekord.
* In 1911 is die eerste openbare vlug in 'n Suid-Afrikaans geboude vliegtuig by Kimberley uitgevoer, maar twee jaar later was dit ook hier waar die eerste vliegongeluk plaasgevind het.
* Vir lugvaart sou 1931 van belang wees: Die Kimberleyse lughawe was die eerste om beligtingstoerusting aan te bring.
* Op Kimberley is die eerste internasionale rugbytoernooi (1889) beslis, die eerste vergadering van die nuutgestigte rugbyraad gehou, en die eerste grensregters gebruik. Kimberley en omstreke was ook die eerste om die Curriebeker te verower - en so ook die Curriebeker in krieket.

SOU JY GAAN * McGregor-museum, Atlasstraat, R12 (volwassenes) en R6 (kinders). Dit is dit daagliks oop tussen 09:00 en 17:00 en Sondae van 14:00 tot 17:00. Bel 053-839-2700.
* Die Duggan Cronin-versameling word beskou as een van die wêreld se belangrikste volkekundige fotografiese optekeninge en word gehuisves in die gelyknamige galery (tel. 053-839-2700), langs die McGregor-museum in Kimberley. Dit is Maandae tot Vrydae van 09:00 tot 17:00 en oor naweke moet jy ‘n afspraak maak (tel. 053-839-2700).
* Die twee indrukwekkende herehuise Dunluce (Lodge Road 10) en Rudd House (Loch Road 5) kan slegs gesien word op afspraak met ‘n gids van die McGregor-museum in die week.

No comments: