Thursday, February 16, 2012

Kerk had vroeë geboorte 150 jaar gelede






Kerk had vroeë geboorte 150 jaar gelede- Jens Friis
PHILIPPOLIS. ¬ - “Ondanks die feit dat die Kaapse Kerk hom teen die Groot Trek uitgespreek het en daar geen geordende leraars die Voortrekkers vergesel het nie, is die NG Kerk tog deur hierdie groot migrasie na die binneland gedra,” skryf J.A. Bosch in die goed nagevorste “Eeufeesgedenkboek van die N.G. Gemeente Philippolis” (1862-1962).
Sedert die verskyning van dié boek het daar egter ‘n halfeeu verloop en volgende jaar word die 150-jarige bestaan gevier van die NG Gemeente op Philippolis – een van die eerste plekke waar die Boere hul gevestig het oorkant die Oranjerivier.
Maar hoewel die groot feesviering in 2012 plaasvind, was daar vanjaar 150 jaar gelede reeds ‘n vroeë geboorte van dié gemeente.
“Reeds in 1861 het die blankes in Philippolis en die onmiddellike omgewing hul eie gemeente gestig, maar nadat die Philippolis-gebied by die Vrystaat deur die koopkontrak van 26 Desember 1861 ingelyf is, het Philippolis ‘n deel uitgemaak van die gemeente Fauresmith,” skryf Bosch.
Hierdie reëling het egter nie lank geduur nie, “want in Maart 1862 is ‘n versoekskrif, onderteken deur 58 persone, aan die kerkraad van Fauresmith voorgelê waarin versoek is “om Philippolis tot een afzonderlijke Gemeente te verklaren. Alhoewel die kerkraad van Fauresmith op die tydstip teen die stigting van nuwe gemeentes was, het hulle nogtans besluit om aan dié versoek geodkeuring te verleen.”
En só het dit toe gebeur dat die Transgariepse Ring die stigting van Philippolis as selfstandige gemeente formeel bekragtig het.
Ds. A.A. Louw van Fauresmith, die konsulent van Philippolis, het ‘n oog gehou oor die nuwe gemeente.
Wat min mense weet is dat die huidige kerkgebou op dieselfde plek staan as die kerkgebou wat van die Griekwas met hul vertrek vir 900 pond gekoop is. Die huidige kerk staan dus ook aan die bo-punt van Voortrekkerstraat wat destyds Kerkstraat geheet het.
Die Griekwa-kerkie is etlike jare nog gebruik, “alhoewel dit toe reeds baie bouvallig en ondoeltreffend was. Voor elke Nagmaalsgeleentheid moes die gades van kerkraadslede sorg gedra het dat die misvloer van die kerk ‘n nuwe “skoon” lagie gekry het.”
Dis onseker wanneer die eerste kerkdienste hier gehou is, maar op 8 Maart 1863 is veertien kinders gedoop. Die volgende dag is die eerste kerkraadsvergadering gehou en ds. Colin Mackensie Fraser is as die eerste leraar beroep.

No comments: