Monday, December 29, 2008

Spookdorpie: Die towerhen van Waterkloof

Die Suid-Vrystaatse nedersetting Waterkloof het deur die jare gekwyn tot ‘n spookdorpie. Daarom is hier al telkens ‘n Amptelike Spookjagtog gehou tydens die jaarlikse Witblitsfees op die buurdorp Philippolis. Maar volgens oorlewering het bo-natuurlike dinge hier gebeur selfs in die dae toe Waterkloof gefloreer het, het ‘n inwoner, wyle tant Hester van Kopenhagen, graag vertel. JENS FRIIS onthou.

LANGS die tweespoorstraatjie, naaste aan die spruit waarna Waterkloof vernoem is, staan ‘n ry kerkhofsipresse.
Dis op dié erf waar oom Herklaas en tant Hannie Boshof eens ‘n huis gehuur het.
Dié egpaar was bywoners en moes destyds dorp toe trek toe oom Herklaas te oud geword het om te boer en die baas van die plaas gesê het hy moet sy ry kry.
Die bejaarde Boshofs het soos die meeste Waterklofers dit nie breed gehad nie en het ‘n bestaansboerderytjie bedryf. Soms het die koue nie gewyk nie en die bloeisels aan hul vrugtebome het een jaar selfs begin-November doodgeryp. Sulke somers was daar nie albertas of granate op hul tafels nie en was die kos maar effentjies.
Ook tant Hannie se sywurms het in sulke maerjare gevrek - weens die onverwagse ryp was daar nie moerbeiblare wat sy die wurms kon voer nie. Haar suster in Port Elizabeth sou dan vir haar per pos eiertjies aanstuur vir ‘n volgende seisoen se weer-probeer. Maar al het die sywurms gevrek en die vrugtebloeisels doodgeryp, kon die Boshofs altyd staat maak op hul hoenders. Hul dosyn voorslag henne het vanaf die plaas saamgekom toe hulle ingetrek het.
Die egpaar het goed aangepas in die dorp, maar op een windstil somersnag het dinge vir altyd verander.
Kort na middernag het ‘n vreeslike gekraai in die hoenderhok losgebreek.
Oom Herklaas het ‘n sug gegee, want die rumatiek het hom opgekeil en vir opstaan was hy min lus.
Maar tant Hannie het haar japon aangepluk en hy moes geweer en al agterna. Haar henne was haar trots en ‘n ondier mog hulle nie afmaai nie.
Tant Hannie is met ‘n parafienlamp al óm die draadhoenderhok wat met riete bedek was, maar alles het pluis gelyk en die twee grysaards het gaan lê.
Maar van slaap was daar nie sprake nie. Die henne het tot hanekraai bly kekkel.
Teen dagbreek het ‘n poegaai oom Herklaas die Statebybel oopgevou en hulle het boeke gevat.
Kort hierna sou die hoenders bedaar en jy sou sweer niks het hulle ooit gehinder nie, want bedags en in die vooraand was alles dooddollies op die Boshofs se werf.
Maar rondom middernag het die gekekkel klokslag wéér uitgebreek.
Van die min slaap was die egpaar later moerig met mekaar.
Boonop het die hoenders skaars gelê.
Uit radeloosheid het oom Herklaas vir sy kleinkind een ganse nag by die hoenderhok laat waak, maar ook dié kindskind kon nie agter die val van die byl kom nie. Enkele weke later het die rietdak van die hoenderhok op onverklaarbare wyse aan die brand geslaan.
Binne sekondes het die vlamme alles verteer en die henne verkool.
Nugter weet hoe, maar ‘n donskleine kuiken het op wonderbaarlike wyse uit die hok ontsnap en buite bedremeld rondgedwaal.
Die brand was ‘n groot finansiële terugslag vir die Boshofs, maar minstens kon hulle nou weer slaap. Boonop het die kuikentjie mettertyd ‘n hen geword en sy het omtrent nét dubbel-door eiers gelê. Só ‘n enkele eier was groot genoeg dat tant Hannie soggens vir hulle twee roereier hiervan kon maak.
Dag en datum ‘n jaar vóór tant Hannie se sterwensdag het die towerhen haar laaste asem uitgeblaas – ‘n geelslang het die hennetjie in die groentetuin gepik.
Die dominee se teksvers op tant Hannie se begrafnis was uit Openbaring 16:15-16: “Julle is natuurlik onseker wanneer die dag presies is. Luister wat sê God: “Wees wakker. My koms sal wees soos ‘n dief s’n – as mense dit nie verwag nie. Die mense wat wakker en gereed is, sal gelukkig wees. Hulle sal te bly wees dat hulle vir My gewag het. Hulle sal nie rooi in die gesig en skaam uit die bed hoef op te spring omdat hulle nie reg was nie.”
Die herder het getroos dat tant Hannie vanaf Waterkloof, ‘n oase in die Karoo, verhuis het na nóg ‘n beter plek – die hemel.
Maar oor die rede vir die gekekkel en die brand het die herder geswyg. Ook vir hom, was dit soos om met ‘n spieël in ‘n raaisel te kyk.
Vir aardse siele is die antwoord op dinge soos dié selde beskore.

MEER OOR WATERKLOOF
* Hoe kom ek daar? Waterkloof was op die hoofpad tussen Johannesburg en Kaapstad voordat die N1 gebou is. Draai by Trompsburg van die N1 en volg die stil R717-teerpad via Philippolis na Colesberg. Waterkloof is sowat 20 km noord van die Oranjerivier.
* Waar kan ek oornag? In dié spookdorpie is daar (on)gelukkig geen slaapplek nie, maar wel in die buurdorp, Philippolis. Gooi ‘n oog by http://www.philippolis.co.za/
* Hoewel baie van die erwe op Waterkloof nie omhein is nie, is dit in privaat besit. Nie al die eienaars hou daarvan dat jy in hul (spook)huisies ronddrentel nie.
* Die Jacobs-broers, boere in die omgewing, oorweeg dit om van die erwe te herontwikkel.
* Waterkloof is in die Karoo. Wees dus voorbereid op snikhete somers en bibberende winters.

No comments: