Monday, October 27, 2008

Kerkgebou kan ineen stort

- Jens Friis

PHILIPPOLIS. Die gevaar bestaan dat 'n deel van die N.G. Kerk in die woonbuurt Poding Tse Rolo inmekaar kan stort omdat bouwerk enkele jare gelede glo nie na behore gedoen is nie.
Ds. Carin van Schalkwyk, leraar van die N.G. Moedergemeente, sê aandag moet dringend aan die kerkgebou gegee word.
"Die gevaar bestaan werklik dat die dak asook 'n deel wat enkele jare gelede aangebou is, inmekaar kan stort. In die termyn van die vorige leraar is daar aangebou by die kerk. Die werk is nie ordentlik gedoen nie met die gevolg dat daar nou groot strukturele probleme is."
Die huidige leraar is ds. April Moema.
Ds. van Schalkwyk sê: "Die N.G. Kerk is bereid om 'n fonds te administreer vir die herstel van dié historiese gebou. As daar iemand is wat 'n geldjie het om te skenk sal dit waardeer word."
Mevv. Jeanne Kalp of Pulani Simes kan hieroor by die kerkkantoor gebel word. Die nommer is 051-773-0014.
Veral Karel Schoeman het deur die jare die sendinggeskiedenis van Philippolis goed gedokumenteer.
Ná die vertrek van die Griekwas in 1861 het eerw. W. Torglan Corner, 'n bejaarde 72-jarige Amerikaanse sendeling, die Blye Evangelie aan die oorblywende Griekwas op Philippolis verkondig.
Met die koms van ds. Colin Fraser in 1863 het hy die sendingtaak met hart en siel ondersteun.
Omdat die bestaande Griekwa-kerk deur die N.G. Kerk aangekoop is as aanbiddingsplek, het die kerkraad 'n woonhuis teen 75 pond aangekoop en dit in as 'n gebedshuis ingerig.
Dit was 'n groot oomblik toe 'n nuwe kerkgebou in Burgerstraat, Philippolis, op 2 November 1878 ingewy is.
Ná die vertrek van Fraser in 1907 het die kerkraad besluit om voortaan 'n volwaardige sendeling in diens te neem.
Op 23 Mei 1910 is eerw. W.P.J. Poen van Harrismith as die eerste sendeling op Philippolis bevestig.
Dié kerk wat nou dreig om ineen te stort is op 8 Februarie 1947 ingewy, het sitplek vir 400 gebied, en het destyds £1 152 gekos.
In 1971 was daar 404 belydende lidmate wat teen 2001 by die 700 sou draai.
Dit was weens dié groei dat die kerk vergroot moes word.
Tydens die herstelwerk in die vroeë 2000's was daar menige probleme.
Só was ds. Ntsabo Stuurman, die vorige leraar, op 'n stadium baie bly dat die kerk uiteindelik 'n sementvloer gekry het ná 'n skenking. Die vorige houtvloer is uitgehaal omdat dit in 'n baie gehawende toestand was. Die kontrakteur wat dit moes vervang het is egter met die hout fort sonder om die sementvloer te lê.
Stuurman het toe gesê: "As die kerkklok nou lui, weet die gemeente hulle gaan nie meer tydens dienste nies van die stof nie."
Maar nou blyk dit nie die einde van dié gemeente se probleme te wees nie, want die aanbouings was blykbaar só krom en skeef dat die dak nou gevaar loop om ineen te stort.
Die gemeente het in die afgelope paar jaar aansienlik gekwyn weens "interne probleme" en daar is tans sowat 300 lidmate.

No comments: