Sunday, October 12, 2008

Kerk vanjaar 125 jaar oud

PHILIPPOLIS. Die Gereformeerde Kerk langs Tobie Mullerstraat, Philippolis, is vanjaar op die kop 125 jaar oud.
Dit word trots aangekondig deur die jaartal "1883" wat bokant die hoofingang na dié godswoning pryk.
"Die eerste 20 jaar van die kerk se geskiedenis is in 'n kits uitgewis tydens die Anglo-Boereoorlog," vertel me. Elize Pienaar, 'n gemeentelid en argivaris van die dorpsmuseum.
"Met die oorlog is die konsistoriekas oopgebreek. Al die dokumente daarin, waaronder foto's, asook die trou- en doopregisters, is uitgedra en indie straat gegooi. Ook die HoogHollandse Kerkbybel is aan die brand gesteek. Alles het uitgebrand," vertel Pienaar.
Buiten die elektriese ligte en van die vensters, is die kerk nog grootliks soos destyds.
Die oorspronklike preekstoel, doopvont, banke, nagmaalservies en konsistoriestoele word nog gebruik.
"Daar is wel 'n nuwe orrel, maar die oorspronklike traporreltjie staan steeds in die kerk."

No comments: