Friday, May 13, 2011

ROETE NOU HEELPAD TEERPAD

Met die R704 wat nou geteer is tussen Trompsburg en Jagersfontein is dit moontlik om heelpad teerpad te ry as jy die Horizon-toerismeroete aanpak. JENS FRIIS het dit gaan ry.
“THE province of the Free State has always had a magical effect on me ... With its flat, dusty landscape as far as the eye can see, the great blue ceiling above … the Free State landscape gladdens my heart no matter what my mood. While I am there I feel that nothing can shut me in, that my thoughts can roam as far and wide as the horizons.”
Só het Nelson Mandela in sy outobiografie Long Walk to Freedom geskryf.
En aan ‘n meer gepaste aanhaling om die Horizon-toerismeroete deur die Suidwes-Vrystaat beskryf, kan ek nouliks dink.
Dit is ook Mandela wat ‘n stigterslid was van die nie-winsgewende maatskappy Open Africa. Dié maatskappy probeer om Afrika se toerismepotensiaal te ontsluit deur onder meer die skep van toerismeroetes. Hul meer as 50 roetes strek oor meer as 31 000 km. Dit wissel van die Overbergse fynbosroete, die Amajubaroete, die Swaziland-roete ... en dan ook die Horizon-roete.
Vat jy kortpad van Kimberley na Colesberg, mag jy vooraf wonder of die Horizon-roete werklik iets bied - die Suidwes-Vrystaat is immers nie 'n toerisme-mekka nie.
Tog lê dié geweste se skatte vlak as jy weet waar om te kyk. Hieronder tel Herbert Baker-geboue, rotstekeninge, van die beste perde in die land, wynkelders ... Voorwaar 'n mandjie geskenke wat wag om oopgemaak te word.
Die Horizon-roete strek deur 'n wye, oop wêreld - die hartland van Suid-Afrika. Net hier en daar staan 'n koppie wat sir Laurens van der Post, ‘n boorling van hier, eens beskryf het as " . . . puritanical hills 'guarding' secret water, so that it appears totally unpeopled".
En dis hierdie kombinasie van afgesonderdheid én maklik bereikbaarheid wat dreamcatchers toenemend lok. Dol is hul op die "Open Spaces and Little Places" (die leuse van Horizon).
Dié roete verbind die N12 (net suid van Kimberley) met die N1 (by Colesberg). Amptelik begin Horizon in die noorde by Jacobsdal. Hiervandaan mirage telefoonpale langs die pad oor uitgestrekte gras- en bossieveld na waar die R717 die Oranjerivier suid kruis.
In die noorde is my gunstelingstilhouplek by Jacobsdal se Landzicht-kelder. Dat daar in die Vrystaat sulke eersteklaswyn gemaak word, bly elke keer 'n verrassing. Om 'n paar bottels van hul pinotage aan te skaf is nooit 'n fout nie.
Van hier lei die pad oor Koffiefontein, skrywer Etienne Leroux se blyplek, na Fauresmith, die naasoudste dorp in die Vrystaat. Destyds het Fauresmith so byna-byna vir Bloemfontein uitgestof. Die eerste Volksraad moes tussen dié twee kies as hoofstad van die Oranje-Vrystaat. Met 'n skrale meerderheid van twee stemme het die keuse op Bloemfontein geval.
Deesdae is Fauresmith se claim to fame sy jaarlikse perde-uithourit en ongewone spoorlyn.
Elke bibberende Julie ding ruiters en perde hier mee om 205 km in drie dae af te lê. Ná elke 25 km het die ruiters 20 minute om hul perde koud te lei waarna hulle deur veeartse ondersoek word. Hartklop en spiere word nagegaan. Perde wat ooreis is, word gediskwalifiseer.
Die geskiedenis van die uithourit strek terug na 'n debat in Landbouweekblad oor watter perderas die beste uithouvermoë het. In 1964 is 'n uithourit gereël oor 'n sirkelroete tussen Hanover, De Aar, Richmond en terug na Hanover. Arabierperde het as oorwinnaar uit die stryd getree.
Omdat Fauresmith omring word deur koppies aan drie kante loop die treinspoor hier deur die hoofstraat -anders sou 'n tonnel gebou moes word. Net in twee ander dorpe ter wêreld is die hoofstraat ook treinspoor, naamlik Tula Homa in Tennessee (Amerika) en Wycheproof in Victoria (Australië).
Hoewel die spore steeds ingebed lê in Fauresmith se voorste straat, loop hier g'n trein meer nie. Die afskaling van mynbedrywighede in Koffiefontein en sluiting van die diamantmyn in die nabygeleë Jagersfontein het dié trein onekonomies gemaak.
Tog was Jagersfontein eens op almal se lippe. Die Jagger-diamante sou bekend word vir hul buitengewone gehalte. Boonop was hul gróót. Só was die Excelsior (972 karaat) op sy dag die grootste wit diamant. Die waarde daarvan word deesdae op sowat R1,2 miljard geraam, aldus Explore, Satoer se amptelike toerisme- en reisgids. Hierdie knewels het gekom uit 'n gat met 'n omtrek van 1,57 km en 'n deursnee van byna 500 m. Volgens mev. Gillian Vermaak, uittredende voorsitter van die Horizon-roete, is dié enorme gat 19,65 ha groot teenoor Kimberley se 17 ha.
Die Vermaaks se winkel, Glaasstudio, is 'n klipgooi van dié Groot Gat. Hul werkers maak nie meer draadkarretjies in die Itumelengtownship nie, maar Franse draadwerk. Van olifante tot Harley Davidsons word opgeslurp in van Sandton City tot Australië.
Van Jagersfontein is daar twee moontlikhede hoe jy verder suid kan ry om uit te kom by Philippolis, die oudste nedersetting in die Vrystaat en die suidelikste dorp op die Horizon-roete.
Die grondpad tussen dié twee dorpe strek oor sowat 60 km en is deesdae omtrent beter as die meeste plattelandse teerpaaie. Oorweeg dit dus gerus.
‘n Ander moontlikheid is om via Trompsburg met die nuutgeteerde pad te ry. Dié pad loop feitliks presies waar die grondpad vantevore tussen Jagersfontein en Trompsburg was. Loop dus lig, want hier en daar is die draai skerper as wat jy van ‘n teerpad mag verwag.
Die skape van hierdie gebied se sappige vleis spruit uit diëte van bossies én gras. Van hier die naam Skynkaroo - die plek waar die Karoo se bossies en die noorde se grasvelde ontmoet. Rofweg lê dié gebied wesvan die N1 in die Suid-Vrystaat, met die Riet- en Oranjeriviere as ander grense.
Soms word hierna ook verwys as die Transgariep. Die Voortrekkers moes die Oranjerivier déúr. Daarom "Trans+gariep": letterlik óór die Gariep ( vorige naam vir die Oranje).
Dis sulke interessanthede wat die Horizon-toerismeroete bekend wil stel en weliswaar is daar meer hiervan as wat jy waarskynlik ooit sou droom.
En mnr. Mandela sou saamstem, want “hier kan jy jou gedagtes vrye vrye teuels gee so ver en wyd as die horison”.
SOU JY GAAN
· Kyk by http://www.openafrica.org/route/Horizon-Route-Open-Spaces-and-Little-Places. Hier is al die inligting wat jy gaan nodig hê. Van waar jy moet eet en slaap tot kaarte en foto’s.
· Bel mev. Gillian Vermaak, die voorsitter van die roete, by 082-355-1726.
· Maak ‘n draai by mev. Judy Bester se werkswinkel in Fauresmith waar skaapvelprodukte soos pantoffels met die hand gemaak word. Loer by http://www.cozycraft.co.za/.
· Dié wêreld is yskoud in die winter. Maak dus nou ‘n draai voordat die ergste koue toeslaan.
· En as jy in die somer gaan onthou ‘n pet, sonbril en iets om aan te smeer sodat jy nie te bruin brand in dié semi-woestyn nie.

1 comment:

Sandra said...

Sal hierdie plekkies op 'n volgende SA besoek moet gaan beloer. Het ook jou storie van Bethulie nou gelees maar kon nie daar comment nie.