Friday, February 11, 2011

Wolkbreuk tref suidwes-Vrystaat

Wolkbreuk tref suidwes-Vrystaat

- Jens Friis

PHILIPPOLIS. ­– ‘n Wolkbreuk het die suidwes-Vrystaat gister in die vroeë oggendure getref toe 55 mm digte, harde reën in die middernagtelike ure tussen 01:00 en 02:00 oor Philippolis uitgegiet is. Die vorige dag het 16 mm geval en met die skryf van dié berig was dit steeds dig bewolk.

Weens dié 70 mm wat oor ‘n reeds sopwaternat Transgariep geval het, het damme op die grens tussen Fauresmith en Philippolis gebreek, die pad na Trompsburg is oorstroom, die Luckhoff-pad is onrybaar, die sloot wat deur Philippolis vloei het vir die derde keer in minder as ses weke in vloed afgekom, en Philippolisers was Vrydag weer sonder drinkwater.

In die ses weke van die nuwe jaar het daar ‘n milde 420 mm oor Philippolis uitgesak – die meeste in menseheugenis. Dit is 60 mm meer as die gemiddelde reënval vir ‘n ganse jaar hier.

‘n Oostenrykse gas wat by die Groenhuis Gastehuis in Philippolis oorgebly het, was teleurgesteld dat dit elke dag reën. “Ek kom hierheen om weg te kom van die grou winterweer in Europa. Maar ek sien nooit die son in die Karoo nie. Dis groener hier as in Switserland!”

Mnr. Willem Strauss sê: “Só nat is dit dat ek met my trekker die veld in moet ry as ek met die skape op Dwarsrivier wil werk.” Hy is die pa van Adriaan Strauss, die Cheetah-rugbyspeler wat onlangs buite Kroonstad getroud is met me. Chantell van Heerden.

Weens die nat toestande kom bloutong reeds onder skape voor. Muskiete en muggies is orals, geelperskes en pruime word suur aan die bome voordat dit ryp is, tuinplante vrek weens ‘n oorvloed water, en die kristal-druiwe wat gewoonlik heuningsoet is, is vanjaar waterig.

Ja, niks is ooit net goed nie. Soos die skrywer Piet van Rooyen eens opgemerk het: “Elke munt het sy kruiskant, na elke oorvreet kom die honger, by elke dikdrink sluimer die dors.”

Mev. Annamarie Vermeulen van die plaas Uitsig het gisteroggend byna ‘n halfuur aan 7 km gery op pad na Bergmanshoogte Intermediêr waar sy ‘n onderwyseres is.

“Ons plaaspad was ‘n rivier water, die groot dam by Grootfontein van die Kolvers is tot oorlopens vol en by die Seebos-uitdraai naby die Kruizingas was die water los oor die Luckhoff-pad.”

Laagliggende dele van die Luckhoff-pad is seepglad, uitgespoel en onbegaanbaar. Só moet Vermeulen elke werksdag oor die klipbedding van die Knapsakrivier ry, want die pad aan weerskante van die brug het ‘n maand gelede weggespoel.

Vrydagoggend het die water steeds oor die twee toegangspaaie tussen Philippolis en die woonbuurt Poding Tse Rolo gestroom. Die enigste manier vir werkers om in Philippolis te kom vanaf Poding Tse Rolo was om versigtig oor ‘n smal hoogwaterbruggie te stap. Maar dit is uiters gevaarlik, want die handreëlings het ‘n maand gelede weggespoel toe damme stroom-op gebreek het.

Geen herstelwerk is sover gedoen nie, en inwoners leef in vrees dat die dam reg langs die middedorp verder gaan breek en die dorp toe onder die water gaan wees soos met die Laingsburg-vloed destyds. Ten spyte van talle versoek het die provinsiale regering nog nie ingegryp om die damwal te versterk nie.

Mnr. Abram Tumo wat sy ma mev. Julia Tumo die naweek ter ruste gelê het in die begraafplaas van Poding Tse Rolo, sê die aarde is deurnat. “Toe ons die graf grawe was die grond moddernat tot meer as 1 m diep.”

Die ondergrondse water is so hoog dat fonteine die sterkste loop in jare, sê mev. Pulani Simes. “Hier is ook baie kos vir die winter.”

En as jy kan na wat die diere in die veld doen, is dit dalk nog einde niet aan die nat toestande. Inwoners vertel dat skilpaaie en slange steeds na hoërliggende dele beweeg. En die goeie reënmaande van Maart en April lê boonop nog voor.

No comments: