Wednesday, July 14, 2010

Philippolis bied baie






Reisskrywer JENS FRIIS werk weeksdae by die nagkantoor van Volksblad in Bloemfontein, maar naweke breek hy graag weg na Philippolis. Dié dorp in die Suid-Vrystaat is feitlik halfweg tussen die kus en die ou Transvaal en gevolglik slaap toeriste graag hier oor. Boonop is die stil teerpad via Philippolis korter as die besige N1. Hier is van die dinge waarmee Friis graag sy naweke op Philippolis verwyl.

HISTORIESE GEBOUE: Karel Schoeman het Philippolis al beskryf as die "Stellenbosch van die Vrystaat". Met sy witgekalkte mure en erfenisgroen dakke, talle bome en leiwater erwe is dit nie moeilik om te verstaan waarom nie. Die kleine Philippolis het boonop die meeste nasionale gedenkwaardighede in die Vrystaat naas Bloemfontein en Bethlehem. Om langs die stil strate verby hierdie geboue te gaan stap is 'n heerlikheid.

KERKE: Die N.G. kerk is soos in menige ander dorpies by verre die imposantste gebou. Dit staan aan die bo-punt van die boomomsoomde Voortrekkerstraat, het tydens die Anglo-Boereoorlog as fort gedien, sy orrel is een van die beste noord van die Oranjerivier, die preekstoel is uit Suid-Vrystaatse olienhout gemaak sonder dat 'n skroef of spyker gebruik is, en ds. Tobie Muller het die heel eerste troue in Afrikaans in Suid-Afrika hier voltrek. Woon gerus op 'n Sondagoggend om 09:30 hier 'n kerkdiens by. Die oud-Anglikaanse kerk, wat ouer is as die N.G. kerk, is as woonhuis omskep.

BEGRAAFPLAAS: Hier lê Boer, Brit en Griekwa langs mekaar.

LAURENS VAN DER POST: Die woonhuis met sy Kaaps-Hollandse gewels waar sir Laurens van der Post sy jongdae deurgebring het staan langs Colin Fraserstraat. By die ingang na Trompsburg is 'n gedenktuin opgerig ter ere van dié skrywer, filantroop en filosoof. Sy lessenaar en boekery is ook hier te sien.

BOEKE: Min plattelandse dorpies is bevoorreg om 'n eie boekwinkel te hê, maar by Oom Japie se Huis (tel. 082-600-0020) is daar rakke vol boeke te kus en te keur. Dié winkel word gehuisves in 'n Victoriaanse huise wat in die 1990's aangewys is as die bes gerestoureerde woonhuis in die Vrystaat daardie jaar.

MUSEUMKOMPLEKS: Die Transgariep Museum, Jacobson-biblioteek, Nienaberplein en Kanonkoppie is 'n móét. Duisende rande word tans uitgegee om die museum op te knap en die biblioteek is byna klaar gerestoureer. Die Transgariep Museum is een van die enigste in die land wat gemagtig is om alkohol - en wel witblits - te verkoop. Kom skaf vir jou 'n flessie van dié vuurwater aan en neem dit saam as jy laatmiddag die Kanonkoppie uitklouter en kyk hoe die son sak oor die dorp. Dié koppie staan só bekend omdat die kanonne wat Adam Kok, die Griekwaleier, gebruik het hier staangemaak is.

SKILDERYE: By De Oude Wagenhuijs (051-773-0050) is kamers vol skildery, maar wat dit veral spesiaal maak is dat dit hoofsaaklik van Philippolis en omgewing is.

EETPLEK: By Ant Emily's (tel. 083-66-22-646) kan jy aansit vir 'n heerlike bord bekostigbare kos. Dié restaurantjie word bedryf uit wat eens Emily Hobhouse se spin-en-weefskool was. Die Engelse Hobhouse het na die Anglo-Boereoorlog gehelp om die Boere weer op die been te kry en sy het die eerste van talle spin-en-weefskole in Suid-Afrika hier op Philippolis geopen.

BLYPLEK: As daar nie genoeg slaapplek in my huis is nie, verwys ek vriende na die Groenhuis Gastehuis (tel. 051-773-0073). Dié sorgsaam gerestoureerde dorpshuis dateer uit 1890 en is op 'n groot leiwater-erf wat jou byna laat voel dat jy op 'n Karoo-plaas is. In Philippolis is ook ander akkommodasie.

SKOU: Tensy jy lank vooraf bespreek, gaan jy nie 'n bed kry om te slaap tydens die jaarlikse skou (tel. 051-773-0144) nie. Dit vind gewoonlik begin-November plaas en is al vir jare die tweede of derde grootste saalperdskou in die land.

TWEE GROOT DAMME: Philippolis se distrik grens aan die Gariepdam (50 km) en Vanderkloofdam (90 km) - die twee grootste damme in Suid-Afrika. Dit bied talle hengel- en watersportmoontlikhede.

TIERE: John Varty, die bekende filmmaker en omgewingsbewaarder, se tierplaas Tiger Canyons (051-773-0063) is 25 km buite Philippolis op die oewer van die Vanderkloofdam. Nader aan kat se kind kan jy skaars as op hul begeleide toere deur die veld.

VOëLS: Hier is al meer as 200 verskillende soorte voëls getel - van geelbekkies en gompoue tot korhane en kwikstertjies. Langs die Oranjerivier hoor jy ook dikwels die onmiskenbare roep van visarende. Wees op die uitkyk vir swerms bloukraanvoëls. Daar is al 'n 1 000 plus van dié bedreigde voëlsoort in die Philippolis-distrik getel.

SPOOKDORPIE: Gaan stap deur die strate van Waterkloof. Dié nedersetting 5 km uit Philippolis op die R717-teerpad na Colesberg, bied uitstekende foto-geleenthede. Gooi 'n piekniekkombers oop op 'n sypaadjie en kyk hoe die Boeing van die Kaap na Gauteng 'n wit streep agterlaat.

SKAAPVLEIS: Die plaaslike slaghuis (051-773-015) verkoop heerlike Karoo-vleis teen billike pryse. As jy 'n skaap wil saamneem, moet jy vooraf bel sodat hulle dit vir jou kan opsny en vooraf verpak.

SKAF 'N HUIS AAN: Maar jy kan ook met meer as skaapvleis en witblits weggaan. Waarom nie 'n naweekhuis aanskaf nie? Dit kan jou minder kos as die motor waarmee jy hierheen gery het. Hier is plek en die geraas min. En almal ken almal. As jy, sê maar, 'n huis langs Tobie Mullerstraat koop, sal jy naby Ria du Plessis bly, wat al sowat 45 jaar in dieselfde huis woon. Langs Bo-Voortrekkerstraat woon Jannie Cilliers, 'n oud-boer wat met 'n fietspomp en saag klanke optower wat David Kramer se tone sal laat omkrul. En so is daar vele ander interessante inwoners.

MEER INLIGTING: Loer by http://www.philippolis.co.za/ of http://www.philippolis.org.za/. Jy kan ook aan die skrywer skryf by jens.friis@volksblad.com.

No comments: