Tuesday, September 16, 2008

'n Eerste vir die Karoo

Die konferensie en handelsfees wil produkte wat eie is aan die Karoo bemark waaronder Philippolis se Witblitsfees (foto) en Colesberg se Skaapfees.

"Open Spaces, Dynamic Places," die eerste Karoo-konferensie op interprovinsiale vlak sal tussen 25 en 27 Maart 2009 in Graaff-Reinet plaasvind.
Dit is die eerste keer dat die ganse Karoo só bemark sal word. Dié uitgebreide streek sluit die Karoo's van die Noord-Kaap, Suid-Vrystaat, Wes-Kaap en Oos-Kaap in. Dit dek dus 'n groot deel van die hartland van Suid-Afrika en strek tot by Namakwaland en die Kalahari.
Volgens prof. Doreen Atkinson, die koördineerder, is die doel daarvan om "nuwe aspekte van ontwikkeling in die Karoo te bespreek. Terselfdertyd sal entrepreneurs en organisasies hul produkte en dienste ten toon kan stel."
Onder die sprekers tel me. Patricia de Lille, leier van die Onafhanklike Demokrate en "dogter van Beaufort-Wes", dr. Danny Titus, uitvoerende direkteur: kultuur van die ATKV, en dr. Sue Milton, 'n kenner van die Karoo se ekologie.
Die Sentrum vir Ontwikkelingsteun aan die Universiteit van die Vrystaat, werk saam met ander rolspelers om die konferensie en handelsfees aan te bied in Graaff-Reinet wat alom bekend staan as die "Juweel van die Karoo".
Sowat 60 uitstallers en 250 konferensiegangers word verwag.
'n Verskeidenheid Karoo-verwante onderwerpe sal bespreek word. Hieronder tel die bewaring van die natuurlike omgewing as 'n hulpbron vir dié streek se besigheidsektor, stedelike en landelike toerisme, en die ontsluiting van ekonomiese hulpbronne waaronder kultuur- en fossiel-erfenisse. Ook sal daar geput word uit navorsing oor die ekonomiese ontwikkeling van droë areas elders ter wêreld.
Daar word gehoop dat die konferensie en handelsfees die belangstelling sal wek van akademici en besigheidslui tot toerisme- en kultuurorganisasies.
Verskeie ontwikkelingsdoelwitte sal nagestreef word waaronder steun vir ontluikende entrepreneurs, die skepping van 'n databasis van Karoo-besighede, en die ontginning van nuwe markte.
"In 'n neutedop is dit 'n gulde geleentheid om die ekonomiese potensiaal van die Karoo bekend te stel," meen Atkinson.
Vir meer besonderhede kan sy gekontak word by 051-773-0324 of epos vir me. Anita Harmse by karooconf@vodamail.co.za.

No comments: