Friday, August 31, 2007

Saalperd word Wêreldkampioen

MEER as 15 000 mense was op hul voete toe 'n Suid-Afrikaanse saalperd aangewys is as die wêreldkampioen in Louisville, Kentucky.
Hierdeur het die spogperd, WGCH Casey's Final Countdown, die gesogte $100 000 "Big Stake" ingepalm.
Dis maar die tweede keer dat 'n Suid-Afrikaans gebore saalperd wêreldkampioen word, en die eerste keer dat só 'n perd nog in Suid-Afrikaanse besit is.
Die Si-Si Trust van Bloemfontein besit dié perd saam met die Michele Macfarlane wat Saterdagaand die tuig vasgehou het.
Die enigste ander saalperd uit ons land wat wêreldkampioen kon word was Zovoorbij Commander in Chief. Hy is in Philippolis geteel op die plaas van wyle Jack Schoeman.
Dit was op die einste Philippolis wat Countdown drie jaar gelede aangewys is as die vyfgang kampioen. Jan Kok was toe in die saal.
'n Amerikaanse saalperdtydskrif het toe verwys na Philippolis se saalperdskou as "The Show of World Champions".
Macfarlane was só beïndruk met Countdown by die Philippolis-skou dat sy spesiaal na hom kom kyk het in Suid-Afrika.
Die laaste Suid-Afrikaanse skou waaraan hy deelgeneem het was in Petrusburg waar hy weer asie groot kampioenskapprys verower het.
Om hom in die VSA te kry het sewe maande se kwarantyn gekos in Kaapstad en Duitsland.
Saalperd kom oorspronklik van die VSA en is sedert 1916 na Suid-Afrika ingevoer.
Ruelda Viljoen sê: "Die Amerikaners is vreeslik beïndruk met die bewegings van ons super-geharde perde, asook hul harte - iets wat hulle verloor het deur die jare."
In die VSA is Macfarlane, en Countdown, "The Stud from South Africa" reeds bestempel as die beste perd/ruiter-kombinasie in die geskiedenis van saalperde.
WGCH Casey's Final Countdown is vernoem na die Viljoens se dogter, Christil Casey.

No comments: