BESOEKERS aan Philippolis ry meestal langs Voortrekkerstraat wat van Trompsburg na Colesberg lei of dalk sal hulle nog ‘n ekstra draaitjie ry deur Tobie Mullerstraat wat in vroeëre jare die dorp se hoofstraat was.
Maar min maak ooit in ‘n draai in Justisiestraat waar menige kosbare en interessante geboue ingeryg staan in die eerste drie blokke aan die noordelike punt.
Kom jy vanaf Skoolstraat oor die bultjie wag ‘n historiese kompleks in die kleine op jou bestaande uit ‘n Karoo-platdakhuisie, die historiese skutkraal (waaroor Kontrei onlangs berig het omdat dit aan’t verval is) en ‘n indrukwekkende sinkveranda-huis.
Beide die Karoo-platdakhuis en die skutkraal is nasionale gedenkwaardighede. Die Karoo-huis langs Justisiestraat 4 dien deesdae as vakansiehuis vir die inwoners wat elders woon, maar het in die 1980’s diens gedoen as Philippolis se inligtingskantoor. Toe het wapperende vlae besoekers voor dié huis ingewag. Binne het mnr. Van der Graaff gereed gestaan met brosjures en inligting oor die streek en jy kon poskaarte, skryfbehoeftes en lekkergoed hier aanskaf. Die kamertjies van die huis is klein en donker, maar heerlik koel in die somer.
Twee huise straat-af staan ‘n sinkverandahuis uit ongeveer 1870 wat pryk op Karel Schoeman se hardeband boek, “Vrystaatse Erfenis – bouwerk en geboue in die 19de eeu”. Nes die Karoo-huisie is dit reg op die straat gebou soos die gewoonte destyds was. Van ‘n voortuin is daar glad nie sprake nie. Schoeman skryf: “Met die toenemende gebruik van sinkplate is die veranda as nuwe versierende element in die dorpsboukuns ingevoer. Deur die gebruik van sink kon die stoepe voor die huis nou oordek word, nie net om ‘n aangename sitruimte te skep nie, maar ook om die son uit die huise uit te hou, want vroeëre generasies was nie besonder gesteld op sonlig nie, en waar ‘n huis wel noord gekyk het, het hulle graag van ‘n veranda gebruikgemaak om dit te weer.”
En voorwaar moes dit ‘n heerlikheid gewees het om vroeër dae op dié beskutte hoë stoep te kon sit en uitkyk hoe die wêreld verbygaan. Helaas het dié huis aansienlik verval sedert die Schoeman-boek deur Human & Rousseau uitgegee is in 1982, maar die fasade is nog net so indrukwekkend as destyds. Sementsierwerk dui aan dat dit op ‘n stadium aan die Cilliers-familie behoort het.
Skuins oorkant staan een van die klaskamers wat in 1872 opgerig is om as skool te dien. Dit dien deesdae as stoor en werkswinkel vir mnr. Johan Louw. David Goldblatt, die vooraanstaande fotograaf, het enkele jaar gelede hier ‘n paar trefferfoto’s geneem van die eertydse klaskamer en Louw se werk- en voertuie.
Op die oorkantste hoek is die Anglikaanse kerk wat nou ‘n woonhuis is vir Brinley en Erina Pritchard. Hul seun, ook Brinley, is ‘n argitek in die Kaap.
En reg langs dié kerk vind jy die rede waarom Justisiestraat sy naam gekry het. “Justisie” in Philippolis was hier gesetel met die landdroskantoor, polisiekantoor en tronk bymekaar. Die landdroskantoor waar adv. Nicho du Toit die magistraat is, is onlangs opgeknap en omhein. Van 1872 tot 1942 is skelms in die tronk toegesluit. Vir die volgende 30 jaar was dit 'n polisiekantoor voordat dit in onbruik verval het. 'n Gautengse sakeman, mnr. Harry During, het die bouval in die 1990's vir 'n appel en 'n ei gekoop en dit in oornagverblyf omgeskep.
Onder die ander interessanthede van Justisiestraat tel die kragsentrale waar elektrisiteit destyds opgewek is en ook die huis waar wyle Anna Neethling-Pohl, die befaamde akteur, gewoon het.
Haar broer, wyle Jan Pohl, onder meer liedjieskrywer, het net ’n straat laer langs Tobie Mullerstraat gewoon.