Thursday, February 16, 2012

Skatryk (diamant)geskiedenis van Jagersfontein


SKATRYK (DIAMANT)GESKIEDENIS
Kom snuffel saam tussen Jagersfontein se klippies

In 1914 het Jagersfontein se rugbyspan die onmoontlike reggekry. Tydens ‘n plaaslike wedstryd het hulle die besoekende Transvaalse provinsiale span geklop met 6-4, volgens die South-Western News. Jens Friis het gaan snuffel in dié Suidwes-Vrystaatse dorp se skatryk (diamant)geskiedenis.
"DIS die oudste myn wat ononderbroke in gebruik is - meer as 2 000 jaar," word trots aan my vertel tydens 'n besoek aan 'n marmermyn in noordwes-Italië. Dáár by Carrara is al gedelf met die geboorte van Christus.
Maar min delwerye is só gelukkig. Myne het 'n beperkte lewe. Weinig is lewensvatbaar ná enkele dekades. Dan kwyn die dorpies daarom heen ook. Dis immers wat gebeur het in Koffiefontein, Copperton, Pelgrimsrus en vele ander.
Toeka het almal geweet waar is Jagersfontein. Hier was 34 kroeë, vyf groot hotels, ondernemings van alle soorte, 'n plaaslike koerant, teaterklub en 'n sosiale lewe ongekend aan die Suid-Vrystaatse platteland.
Selfs in die huise was lopende water én elektrisiteit - die eerste in die provinsie.
Van oral oor het hulle gestroom. Jagersfontein het party stief behandel en hulle is koponderstebo vort. Die sterre is mos altoos blinker aan die ander kant.
Maar daar was ook die gelukkiges, want het jy wel 'n klippie uitgegrou, wás dit blinker as elders. Die Jagersdiamante sou bekend word vir hul buitengewone gehalte. Boonop was hulle gróót.
Só was die Excelsior (972 karaat) een van die tien grootste knoetse wat ooit gevind is. Tot die ontdekking van die Cullinan-diamant naby Pretoria 12 jaar later in 1905 was die Excelsior die grootste wit diamant.
Die waarde daarvan word deesdae op sowat R1,2 miljard geraam, aldus Explore, Satoer se amptelike toerismeen reisgids.
In 1895 is nog 'n wit diamant by Jagersfontein gevind. Die Reitz (later herdoop tot Jubilee) was ook 'n nie te versmaaie 640 karaat.
Al dié knewels het gekom uit 'n gat met 'n omtrek van 1,57 km en 'n deursnee van byna 500 m. Diegene met geseënde wiskundige talente sou kon uitwerk dat dié gat nagenoeg 9,65 ha beslaan. Na 32 jaar se oopmynbedrywighede is daar in 1913 'n vertikale skag gesink met horisontale tonnels. 'n Allemintige 9 526 miljoen karaat diamante (meestal van juweelgehalte) is tussen 1871 en 1896 by die Jagersfonteinmyn gevind.
Daar word gereken dat daar nog talle diamante skuil in die brokke rots op die nabygeleë mynhope. Weens ondoeltreffende mynmetodes is 'n groot hoeveelheid van die pyp nooit ontgin nie.
Kyk jy in die gat af, is dit duiselingwekkend diep (165 m). 'n Deel is gevul met grond- en reënwater - Jagersfontein se drinkwater.
In die bykans 100-jarige bestaan van die myn het dit 'n paar keer tot stilstand gekom soos tydens die twee wêreldoorloë en die Groot Depressie, maar dit is eers in 1969 finaal gesluit.
Van sy diamantglorie het Jagersfontein hier en daar iets behou. So is daar die waterpompe langs die straathoeke, drie Herbert Baker-geboue, 'n pragtige Rooms-Katolieke kerk uit 1881 en die Jager's Mining Village.
Maar wat eens aangelê is as myndorp op die plaas van die Griekwa, Jacobus Jagers, is deesdae eerder 'n saamkomplek vir skaapboere van die suidwes-Vrystaat.

SOU JY GAAN* Jagersfontein is 116 km van Bloemfontein. Draai van die N1 by die Windmill Casino en volg die R706.
* Inwoners beweer ‘n deel van die R706 is die langste stuk reguit pad in Suid-Afrika (of minstens in dié geweste). Vat die pad en jy sal sien waarom hulle so meen.
* Onderweg sal jy die Kromellenboog- en Rietrivier oorsteek – twee van die grootste “riviere” in die suidwes-Vrystaat. Beide vloei later in die Kalkfonteindam, ‘n gewilde visvangplek.
* Van Jagersfontein lei die teerpad na Fauresmith. Dit is net ‘n klipgooi weg en beslis die moeite werd om ook te besoek.
* Die R704 van Jagersfontein na Trompsburg is nou ‘n teerpad en só kan jy weer by die N1 aansluit.

Kerk had vroeë geboorte 150 jaar gelede






Kerk had vroeë geboorte 150 jaar gelede- Jens Friis
PHILIPPOLIS. ¬ - “Ondanks die feit dat die Kaapse Kerk hom teen die Groot Trek uitgespreek het en daar geen geordende leraars die Voortrekkers vergesel het nie, is die NG Kerk tog deur hierdie groot migrasie na die binneland gedra,” skryf J.A. Bosch in die goed nagevorste “Eeufeesgedenkboek van die N.G. Gemeente Philippolis” (1862-1962).
Sedert die verskyning van dié boek het daar egter ‘n halfeeu verloop en volgende jaar word die 150-jarige bestaan gevier van die NG Gemeente op Philippolis – een van die eerste plekke waar die Boere hul gevestig het oorkant die Oranjerivier.
Maar hoewel die groot feesviering in 2012 plaasvind, was daar vanjaar 150 jaar gelede reeds ‘n vroeë geboorte van dié gemeente.
“Reeds in 1861 het die blankes in Philippolis en die onmiddellike omgewing hul eie gemeente gestig, maar nadat die Philippolis-gebied by die Vrystaat deur die koopkontrak van 26 Desember 1861 ingelyf is, het Philippolis ‘n deel uitgemaak van die gemeente Fauresmith,” skryf Bosch.
Hierdie reëling het egter nie lank geduur nie, “want in Maart 1862 is ‘n versoekskrif, onderteken deur 58 persone, aan die kerkraad van Fauresmith voorgelê waarin versoek is “om Philippolis tot een afzonderlijke Gemeente te verklaren. Alhoewel die kerkraad van Fauresmith op die tydstip teen die stigting van nuwe gemeentes was, het hulle nogtans besluit om aan dié versoek geodkeuring te verleen.”
En só het dit toe gebeur dat die Transgariepse Ring die stigting van Philippolis as selfstandige gemeente formeel bekragtig het.
Ds. A.A. Louw van Fauresmith, die konsulent van Philippolis, het ‘n oog gehou oor die nuwe gemeente.
Wat min mense weet is dat die huidige kerkgebou op dieselfde plek staan as die kerkgebou wat van die Griekwas met hul vertrek vir 900 pond gekoop is. Die huidige kerk staan dus ook aan die bo-punt van Voortrekkerstraat wat destyds Kerkstraat geheet het.
Die Griekwa-kerkie is etlike jare nog gebruik, “alhoewel dit toe reeds baie bouvallig en ondoeltreffend was. Voor elke Nagmaalsgeleentheid moes die gades van kerkraadslede sorg gedra het dat die misvloer van die kerk ‘n nuwe “skoon” lagie gekry het.”
Dis onseker wanneer die eerste kerkdienste hier gehou is, maar op 8 Maart 1863 is veertien kinders gedoop. Die volgende dag is die eerste kerkraadsvergadering gehou en ds. Colin Mackensie Fraser is as die eerste leraar beroep.

Gariepdam 40 jaar gelede op posseël



40 JAAR GELEDE: Mooitjies 40 jaar gelede het dié poseël wat ontwerp is deur C. Bridgeford orals op briewe in Suid-Afrika gepryk. Die Gariepdam, die grootste in Suid-Afrika, is in 1971 ingewy en was aanvanklik bekend as die Verwoerddam. Ná 1994 is dit herdoop tot die Gariepdam wat verwys na die Oranjerivier oftewel Gariep wat beteken "groot water". Langs die Gariepdam is die dorp met die gelyknamige naam wat eens bekend was as Oranjekrag. Die Gariepdam is 88 m hoog en 914 m lank. - Jens Friis

Kimberley se 1stes 'n lekker dagrit vanaf Philippolis



- Jens Friis
Die hoofstad van die Noord-Kaap se diamantmyne het hom op sy dag aan die voorpunt van industrialisasie in Suid-Afrika geplaas. Gedryf deur 'n gees van vooruitgang en voorspoed, is dit nie verbasend nie dat dié stad oor talle eerstes beskik.
Dis net by hul Groot Gat wat Kimberley deesdae kleitrap. Dié is glo nié die grootste mensgemaakte uitgrawing ter wêreld nie. Volgens Jagersfonteiners het kenners altwee gate sorgvuldig gemeet en dit het duidelik getoon: hulle s’n is groter as dié van Kimberley.
Maar wat die res betref, word talle van Kimberley se eerstes, grootstes en bestes belig in dié stad se McGregor-museum.
Die imposante gebou wat die McGregor huisves het 'n ryke geskiedenis. Cecil John Rhodes wat dit in 1897 as sanatorium laat bou het, het hier tuisgegaan met die beleg van Kimberley. In die sitkamer (deesdae die museumwinkel) is die nuus aan hom oorgedra dat die stad bevry is. In 1908 is dit herdoop tot die Hotel Belgrave en in 1933 is die gebou weens geldelike nood as kloosterskool verhuur.
* Digby die McGregor langs Du Toitspanstraat is blykbaar die enigste inrykroeg in die land. Dit dateer van 1880.
* Die Start of the West naby die Groot Gat roem hom daarop dat dit die oudste kroeg in die land is. Nadat dit in die 1870's 'n dranklisensie gekry het, het Barney Barnato blykbaar dikwels hier aangedoen.
* Dit was kort hierna wat Kimberley die eerste dorp in Suid-Afrika geword het om elektriese straatligtete kry (1882).
* Ook was hier die eerste hotel wat kon spog met elektrisiteit (1889) en drie jaar later die eerste elektriese trem. Dié tremlyn het diens gedoen tot 1947.
* En só gaan die Nr. 1-lys voort. Wat vroue betref, staan veral die name uit van Karen Muir, suster Henrietta Stockdale en regter Leonara van den Heever. Die twaalfjare Karen Muir het 'n opskudding in die swemwêreld veroorsaak toe sy in 1965 in Blackpool, Engeland, die 110 tree-rugslag in 'n blitsige 68,7 sekondes afgelê het - 'n wêreldrekord.
* In 1911 is die eerste openbare vlug in 'n Suid-Afrikaans geboude vliegtuig by Kimberley uitgevoer, maar twee jaar later was dit ook hier waar die eerste vliegongeluk plaasgevind het.
* Vir lugvaart sou 1931 van belang wees: Die Kimberleyse lughawe was die eerste om beligtingstoerusting aan te bring.
* Op Kimberley is die eerste internasionale rugbytoernooi (1889) beslis, die eerste vergadering van die nuutgestigte rugbyraad gehou, en die eerste grensregters gebruik. Kimberley en omstreke was ook die eerste om die Curriebeker te verower - en so ook die Curriebeker in krieket.

SOU JY GAAN * McGregor-museum, Atlasstraat, R12 (volwassenes) en R6 (kinders). Dit is dit daagliks oop tussen 09:00 en 17:00 en Sondae van 14:00 tot 17:00. Bel 053-839-2700.
* Die Duggan Cronin-versameling word beskou as een van die wêreld se belangrikste volkekundige fotografiese optekeninge en word gehuisves in die gelyknamige galery (tel. 053-839-2700), langs die McGregor-museum in Kimberley. Dit is Maandae tot Vrydae van 09:00 tot 17:00 en oor naweke moet jy ‘n afspraak maak (tel. 053-839-2700).
* Die twee indrukwekkende herehuise Dunluce (Lodge Road 10) en Rudd House (Loch Road 5) kan slegs gesien word op afspraak met ‘n gids van die McGregor-museum in die week.

Sunday, February 5, 2012

Wyle Naomi Friis se groentesop (Groenhuis Gastehuis)

Wyle Naomi Friis se groentesop (Groenhuis Gastehuis)

3 liter koue water
2 sopbene (3 stukkie briskets)
8 ml sout
125 g 4-1-sopmengsel
2 groot geelwortels, geskil en gerasper
25 ml tamatiepasta
1 ui, gekap
1 selderystingel, gekap
2 preie, gekap
125 ml pampoenblokkies
18 ml Worcestersous
5 ml suiker
5 ml knoffelsout
Ekstra sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

Plaas die water, sopbene en sout in 'n drukkastel en drukkook 20 minute, ofkook 1 uur in 'n gweone kastrol.Voeg die res van die bestanddele by en kook weer 20 minute in 'ndrukkkastrol of 45 minute in 'n gewone kastrol.Verwyder die sopbene en laat nog 1 uur prut.AS dit te dik is, kan jy nog water byvoeg.Sit stomend warm voor.Genoeg vir 6 mense.

Thursday, February 2, 2012

Historiese foto van Gariepdam

Dié historiese foto van die Gariepdam, die grootste in Suid-Afrika, is deur mnr. Gert van Niekerk van Philippolis verskaf. Hierdie dam is in die vroeë 1970's ingewy en het aanvanklik as die Verwoerddam bekend gestaan. Gariepdam is sowat 50 km vanaf Philippolis.